|
EREDIENSBESONDERHEDE Ons hou op Sondae ‘n verskeidenheid eredienste op verskillende plekke wat ruimte skep dat mense die Here met oorgawe kan aanbid. Klik hier om die jongste erediensbesonderhede te sien. |
PREKE Klik hier om ‘n mp3-weergawe van ons eredienste in die Gemeentesentrum af te laai. Preke kan op CD by die kerkkantoor bestel word. Gaan na Kontak ons, vorms vir ‘n pdf-lys van alle beskikbare preke wat by die kerkkantoor bestel kan word. Verder sal jy op die voorblad ook die jongste preke kry wat jy sommer so direk op jou rekenaar kan luister. |
BULLETIN Wonder jy wanneer gebeur wat? Om deel te wees van Lux Mundi beteken om gereeld in te skakel! Klik hier om die jongste pdf-weergawe van ons weeklikse Bulletin af te laai en bly op hoogte van Lux Mundi se werk in die Koninkryk. |
Aswoensdag is die begin van lydenstyd. Aswoensdag is oorspronklik in die kerk gevier deurdat die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag verbrand is en met olyfolie gemeng is. ʼn Kruis is dan van dié mengsel op die voorhoof van mense gemaak met die gepaardgaande woorde:
"Mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer". Die as is ‘n teken van verganklikheid en boetedoening met die oog op die lydenstyd wat voorlê.
Ons daag jou uit om die 46 dae vanaf Aswoensdag (22 Februarie) tot Paassondag (8 April) saam met ons van iets te vas.
Vas was nog altyd deel van die Joods-Christelike tradisie en die Skrif is vol voorbeelde van mense wat om verskillende redes vas. Ou Testamentiese heiliges het baie keer gevas wanneer die volk gerou het en hulle tot God verootmoedig het. Hulle het ook gevas as hulle krag nodig gehad het of wanneer hulle God se stem wou hoor. Gaan lees gerus gedeeltes soos 1 Samuel 7:6, Nehemia 1:4, Ester 4:16.
Jesus het sy bediening met ‘n veertig dae vas begin en toe die duiwel hom versoek het, het Hy ook gevas. Matteus 4:2, Markus 2:18-19, Lukas 5:33. Die Nuwe Testamentiese kerk het baie keer gevas wanneer hulle God se wil gesoek het en ook wanneer hulle krag en genade nodig gehad het om getrou aan die roeping en werk van God te bly. Daar is ook voorbeelde van vastye gedurende tye van aanbidding – sien Handelinge 13:2-3.
In baie Christelike tradisies is vas ‘n belangrike deel van die voorbereiding tot ‘n bepaalde liturgiese seisoen. Wanneer die kerk gedurende Lydenstyd vas, is dit om ons daaraan te herinner hoe Jesus alles vir ons opgeoffer het – selfs Sy lewe!
Jy kan om die verkeerde redes vas
1) Wanneer jou lewe nie regtig in lyn met God se wil is nie, dan kan jy jou daarop voorberei dat jou vas op niks gaan uitloop nie – Jesaja 58:3-7.
2) Jy moenie vas om God te probeer beïndruk nie.
3) Dit is nie ‘n manier om God te manipuleer nie.
Wanneer ‘n mens van iets vas, offer jy jou tyd en aandag op. Fokus daardie tye spesiaal op jou verhouding met die Here waar jy andersins sou eet, in die winkels sou rondloop, TV kyk of op die rekenaar besig sou wees. Vas is ‘n geleentheid om jou aptyt vir allerhande dinge bietjie hok te slaan en op God te fokus. Dit help om daardie tyd op ‘n geestelike of spirituele oefening te spandeer. Dit is ‘n daad van selfverloëning wat aanvanklik nie so groot lyk nie – want wat ‘n TV-program, ‘n rekenaarspeletjie, Facebook of nog ‘n middag in die mall nou eintlik? Tog bring die tydelike opffering van ons klein gewoontes ons in aanraking met die honger van ons diepste wese. Deur selfverloëning begin ons erken watter dinge ons soms beheer en wat regtig vir ons belangrik is.
‘n Vastydperk is nie daar om jou moedeloos te maak nie. Dit is slegs die eerste stap in die ontdekkingsreis om weer eens te besef dat God eerste in ons lewens behoort te wees en dat ons sekere dinge in ons geloofsreis behoort op te offer om meer en meer aan Hom toegewyd te leef. Kyk vir een dag nie TV nie en gesels weer vir ‘n slag met die mense wat God in jou lewe gegee het! Proe die verskil tussen dit wat ons regtig voed – die lewende Brood en die lewende Water en “gemorskos”! Vas help ons om weer te onthou dat ons oor ander dinge ook besorg moet wees en tye van stilte, tye van alleenwees, meer tye van bid en afsondering, tye van sorg en tye van diep gesels in ons lewens moet inbou. Vas help ons om van agtergrond geraas en gemors in ons lewens ontslae te raak en te fokus op die dinge wat regtig saak maak!
Tekste oor persone in die Bybel wat gevas het
Lukas 4:2 - Jesus
Daniël 10:3 – Daniël
Ester 4:16 – Ester en haar diensmeisies
Handelinge 9:9 – Paulus
Deuteronomium 9:9 - Moses
1 Konings 19:8 - Elia
Die meeste van die kere is vas ‘n privaat aangeleentheid tussen die individu en God, maar daar is ook voorbeelde in die Bybel waar die volk Israel hulle gesamentlik voor God verootmoedig het deur te vas. Dit word ‘n korporatiewe of publieke vas genoem. Wanneer ‘n groep of gesin of gemeente saam vas, kan dit ‘n kragtige ervaring wees omdat die groep saam oor ‘n spesifieke saak nadink. Gedurende hierdie tyd gaan ons as gemeente onsself opnuut aan die Here toewy en Hom dank vir alles wat Hy vir ons opgeoffer deur die lydenspad wat Hy gestap het.
Levitikus 23:27
Joël 2:15
2 Kronieke 20:1-4
Esra 8:21-23
Riglyne
* Kry vir jou ‘n joernaal vir hierdie 40 dae-vastyd waarin jy neerskryf waaroor jy dink of bid.
* Wanneer jy in die versoeking kom om jou vas te verbreek of terug te val, gaan sit, haal diep asem en wéét: jy is in die teenwoordigheid van die Here. Herhaal ‘n eenvoudige gebed soos: “Spreek Here, u dienskneg/diensmaagd luister” of “Here, hier is ek …”.
* Gee jou diepste behoeftes vir die Here. Vra Hom spesifiek om jou begeertes en lewe in lyn met Sy wil te bring. Bid die Onse Vader en fokus op die reël: “Laat U koninkryk kom …”
* Deel jou gedagtes met die Here.
* Dink oor die volgende na: “Wat beteken dit regtig om die Here te volg (‘n dissipel te wees) en Hom ook in sy Lydensweg te volg? Skryf ‘n denkbeeldige gesprek met Jesus so op sy Via Dolorosa neer.
* Doen dit saam met jou gesin of groeigroep. Laat elkeen in die gesin self kies waarvan hy/sy wil vas. Moedig mekaar aan en hou mekaar aanspreeklik.
* Sluit die vas af deur op Paassondag in julle gesin of groep ‘n Bybelse ete te hou – dit kan ‘n wonderlike gesinstradisie in julle huis word. Ons sal voor Paasnaweek resepte en idees op die webwerf plaas!
Vrae vir die groep of gesin
1. Wat was jou eerste reaksie toe jy van die vas-uitdaging gehoor het:
_____ ugghh
_____ hmmm
_____ wow!
_____ oukei
_____ ek sal eers gaan dink
_____ julle maak seker ‘n grap
_____ vryheid!
_____ ……….
2. Wat het (of gaan) jy gedurende hierdie 40 dae lydenstydperk opgeoffer?
3. Wat was vir jou die moeilikste toe jy iets moes kies om vir 40 dae op te offer?
4. Wat doen jy wanneer jy rusteloos of ongelukkig voel? Wat vertel dit vir jou van jou diepste gevoelens?
5. Wat het jy ervaar/ervaar jy toe jy sonder die ding/saak vir 40 dae (of waar jy nou in die vastydperk trek) moes klaarkom? Hoe help dit om met die Here oor die gewone goed in jou lewe te praat.
6. Watter geestelike verdieping of groei het jy ervaar?
7. Hoe het jy jou gesins- of groeplede aangemoedig om deur die vas “vas te byt”?
8. Vir wie gaan jy spesiaal gedurende hierdie vastydperk/Lydenstyd bid? Skryf die persoon se naam hier neer: …………………………………………
9. Wie gaan jy na jou Bybelse-ete uitnooi. Bid nou reeds dat die Here iemand op jou hart sal lê om die nuwe lewe in Christus saam met julle te kom vier! ………………………………………………………………………….
10. Skryf elke gesins- of groepslid se name neer en waarvan elkeen gaan vas:
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………
Bronne:
Calhoun, AA. 2005. Spiritual Disciplines Handbook: Practices that transforms us. Intervarsity Press.
Foster, R. 1999. Revised editition. Celebration of discipline. The path to spiritual growth. Hodder & Stoughton.
Kommentaar deur Mariana De Klerk op 22 Februarie 2012 om 14:34 Wat 'n wonderlike geleentheid vir versoening in onsself en vir elkeen wat ons pad kruis. Mag hierdie vastyd van krag tot krag gaan en mag dit 'n Hemelse nalatenskap he wat groter is as wat enige mens kan vermag.
Voeg Kommentaar By
© 2012 Created by Lux Mundi.

Jy moet 'n lid wees van Lux Mundi Gemeente om kommentaar te lewer!
Join Lux Mundi Gemeente