Ek lees die naweek 'n baie interessante artikel op die webwerf van die hoog aangeskrewe tydskrif Science. Dit gaan oor die effek van gee op mense se gemoed.
'n Sosiale sielkundige, Elizabeth Dunn by die Universiteit van Brits-Columbia in Kanada, het navorsing gedoen oor watter soort spandering mense regtig gelukkig maak. Sy en haar kollegas het 109 studente ondervra en die meeste het gesê dat hulle gelukkiger sal wees met $20 as met $5 in hulle sakke. Die meeste het ook gesê dat hulle eerder die geld op hulleself sal spandeer as op iemand anders.
Geen verrassings hier nie! Die meeste van ons sal gelukkiger voel met méér geld in die sak as met minder, en sal dit instinktief op onsself wil uitgee.
Dunn en haar span navorsers het daarna vir 46 ander studente elk 'n koevert gegee met bedrae wat wissel van $5 - $20 met 'n instruksie daarby oor hoe om dit uit te gee. In die opvolg het hulle gevind dat dié wat dit op iemand anders geblaas het (op 'n geskenk of vir liefdadigheid) gelukkiger gevoel het as dié wat dit op hulleself uitgegee het. Twee ander navorsingsprojekte onder werkende persone het dieselfde resultate opgelewer: mense wat geld weggee, beleef dat dit hulle gelukkiger maak as om dit vir hulleself te hou. Die effek daarvan om geld weg te gee vir 'n goeie doel, is baie dieselfde as met oefening: dit het 'n onmiddellike sowel as langtermyn positiewe uitwerking.
Hierdie navorsing bevestig die beginsel wat Jesus vir ons kom leer het: Om te gee, maak mens gelukkiger as om te ontvang (Hand 20:35). Die positiewe effek is verder ook nie net op die individu wat gee nie, maar dit bring op die lang duur ook 'n meer menslike samelewing tot stand. Of in teologiese taal: dit laat God se wil en idees, sy koninkryk in hierdie weerklikheid deurbreek.
Jy moet 'n lid wees van Lux Mundi Gemeente om kommentaar te lewer!
Join Lux Mundi Gemeente