Die taak van die gemeenteraad:
- Bepaal die visie.
- Kommunikeer die visie.
- Sorg dat die visie lewend bly en die gemeente se bedieninge in
diens staan van die visie.
- Bepaal wat op 'n bepaalde tydstip die sleutel prestasie-areas
ten opsigte van die visie en kernwaardes is.
- Moniteer die vordering ten opsigte van die realisering van die
visie.
- Is verantwoordelik vir die strategiese beplanningsproses van
die gemeente.
- Is die regspersoon wat aanstellings maak, die gemeente se
begroting goedkeur, en aan wie die personeel finaal aanspreeklik
is.
- Neem finale aanspreeklikheid vir alle tug en dissiplinêre
personeel aangeleenthede.
Wat is ons styl?
Goeie verhoudings
is baie belangrik. Ons wil 'n egte gemeenskap van gelowiges wees,
en asseblief nie een van daardie bakleierige kerkrade nie.
Ons streef sover as moontlik na konsensus en elkeen se stem is
belangrik.
Visionêre leierskap is belangrik, maar nie met 'n outokratiese
styl nie.
Ons streef na goeie kollegiale samewerking, en die Gemeenteraad
konsulteer wyd wanneer groot besluite geneem moet word.
DAGBESTUUR GEMEENTERAAD
Voorsitter:
Dirk Kotzé
Onder-voorsitter: Jan van Heerden
Leierleraar: Dr. Lourens Bosman
Wie ons is en wat ons moet wees
Lux Mundi is 'n gemeente met 'n sterk sin vir
identiteit. Ons verstaan dat God ons roep om lig vir die
wêreld te wees.
- Ons begryp dat om God se lig te laat skyn, moet ons mekaar
werklik liefhê en terselfdertyd oop wees sodat ander mense wat die
Here wil volg, maklik kan deel word van die geloofsfamilie.
- Ons verstaan dat wanneer Jesus ons roep om Hom te volg, ons dit
nie halfhartig kan doen nie. Hy vra ons volle oorgawe en
toewyding.
- Die Here druk ons dit op die hart dat ons nie vir onsself
bestaan nie, maar om ander mense saam te nooi om Hom ook te
volg.
Teen die einde van verlede jaar het ons 'n opname gedoen onder
julle, ons lidmate, oor wat julle behoeftes is en waarop ons in die
gemeente behoort te fokus. Die resultate van hierdie konsultasie is
opgevolg met gesprekke deur die leiers in die gemeente. Dit was 'n
goeie oefening wat ons gehelp het om te identifiseer watter dinge
nou noodsaaklik is om meer te word wat ons behoort te
wees.
Dit was duidelik dat ons in 2011 eerstens die familiegevoel moet
versterk en onderlinge bande moet bou. Om dit te doen, moet die
groepe uitgebou word. In 'n groot gemeente soos hierdie is
kleingroepe onontbeerlik sodat lidmate 'n plek kan hê waar hulle
aan 'n geloofsfamilie kan behoort. Dit gaan eerstens oor die
groeigroepe, maar ook ander soort groepe waar mense met
verskillende belange kan tuiskom. Die groepe is die kweekhuis waar
ons leer om mekaar te dien, oor ons geloof te praat en geestelik te
groei. Hier word jy toegerus vir 'n lewe in die wêreld.
Julle het ook gevra vir praktiese toerusting. Dit gaan oor hoe om
as gelowiges te lewe, oor toerusting vir getuienis en om die Bybel
beter te leer ken. In alle toerusting moet die Woord sentraal
staan. Dit gaan nie net oor die aanleer van lewenskuns nie, maar om
God beter te ken en te dien.
Om ons roeping te vervul, sal ons ook aandag moet gee aan
praktiese sake soos goeie kommunikasie, gasvryheid teenoor
vreemdelinge en om mekaar te versorg. Dan is daar is dinge wat
oor die jare deel geword het van ons identiteit en wat ons nie mag
laat los nie. Dit is dinge soos om kinders, tieners en jongmense as
volwaardige lidmate te beskou en te bedien, om na buite uit te reik
en om 'n verskil in die gemeenskap te maak. As hierdie dinge sou
glip, is ons nie meer Lux Mundi nie.
Lourens Bosman
Leierleraar
Deur die bril van ons Vader
Die nuwe jaar met al sy uitdagings lê voor. Ons wonder hoe
dit moontlik gaan wees om in hierdie woeste gejaag van die lewe
staande te bly.
Onlangs is die nuwe koerant New Age geloods.
Hulle hele bemarkingsveldtog draai om 'n konsep van:
deur watter lens kyk jy na gebeure? Hierin lê een van die grootste
wonderwerke vir ons as Christene, ons kyk na die wêreld en ons lewe
deur die bril van ons Hemelse Vader. Hierdie bril sien hoop
waar ander geen hoop het nie, dit sien vrede en liefde wanneer
ander oorlog en geweld sien, dit sien genade wanneer ander straf
sien.
Kom ons kyk hierdie jaar deur die bril van ons Vader, kom ons sien
die rykdom van sy genade, kyk na ons omstandighede as geleenthede,
ons moeite as werk vir Hom, ons lewe en werk as 'n deurpad na sy
Koninkryk.
Groete
Dirk Kotzé
Voorsitter: Gemeenteraad
Sel: 083 263
6762
E-pos:
d167@mweb.co.za