Daar is baie maniere om te probeer voorstel hoe 'n gemeente
werk. Een van die nuttigste maniere is in terme van die prosesse
wat in die gemeente aan die gang is... Die volgende prentjie van
die pawiljoen en die spelers is 'n maklike manier om dit te
verduidelik:

- DIE OMGEWING
Mense wat niks of baie
min met die kerk te doen het en met hulle lewe aangaan. Ons woon en
werk saam met hulle.
- TOESKOUERS
Mense wat
bietjie belangstel, nou en dan in die kerk kom en dalk 'n bydrae
gee. Is soms volkskerk lidmate wat net in naam lede van die kerk
is.
- ONDERSTEUNERS
Woon eredienste
en funksies by, gee bydraes, maar dra nie by tot die
bereiking van die visie nie. Praat van die gemeente as
"hulle".
- LEIERSKAP
Gee strategiese leiding
oor hoe die visie bereik kan word.
- DEELNEMERS
Toegewyde lidmate wat
die visie najaag. Is op verskillende maniere deel van die
bedieninge van die kerk. Praat van die gemeente as "ons".
- ONDERSTEUNINGSDIENSTE
Help die
"deelnemers" met die dinge wat hulle nodig het in hulle
bedieninge.
Met hierdie prentjie kan mens dan ook die prosesse in die
gemeente verstaan: mense beweeg van die gemeenskap en word
toeskouers of kom-kykers. Die doel is dan om die passiewe
toeskouers te beweeg om aktiewe ondersteuners en deelnemers te
word. Een van die dinge wat die deelnemers doen, is om weer nuwe
mense uit die gemeenskap te gaan haal om deel te word van die
gemeente. So hou die proses homself aan die gang.
Die leierskap beplan strategies hoe die spel gespeel word, en die
ondersteuningsdienste lewer die nodige infrastruktuur en
ondersteuning vir toeskouers, ondersteuners en spelers.
Wat die gemeente struktuur betref, kan dit soos volg voorgestel
word:

In die middelpunt staan die kruis. Dit kan nie anders nie, want
ons staan in die eerste plek onder die Here se leiding, nie dié van
mense nie. Alles word hieraan getoets: "Wat verwag God van
ons?"
Die buitenste kring is die visie: dit sê wat God van die
gemeente verwag en waarheen ons op pad is.
Die gemeenteraad se werk is om die visie te beskerm en toe te
sien dat die gemeente op koers bly.
Die bedieningspan is die predikante en ander voltydse geestelike
werkers. Hulle help om die bedieninge te bestuur en rus die
gemeentelede toe vir hulle dienswerk. Hulle het ook 'n belangrike
teologiese taak om die gemeente te leer en begelei.
Die ondersteuningsdienste se taak is om die infrastruktuur daar
te stel dat die bedieninge, die bedieningspan en die gemeenteraad
hulle werk kan doen. Hier gaan dit oor dinge soos die begroting en
die finansies, personeelsake, die geboue en ander fasiliteite.
Die bedieninge is waar die dinge gebeur. Hier word die droom
omgesit in dade. Die groeigroepe speel ook 'n belangrike rol om die
visie te realiseer. Een van die belangrike kenmerke van gemeentes
wat hulle roeping vervul is dat die bedieninge vrygemaak is om
hulle roeping te vervul, 'n duidelike prentjie het van waarheen die
gemeente op pad is en die nodige ondersteuning ontvang om hulle
werk te kan doen.
Drie of vier maal per jaar kom al die bedieninge saam in
bedieningsforums. By hierdie geleenthede word inligting gegee,
beplan, die begrotings bespreek en netwerke gevorm. In 'n groot
gemeente is dit noodsaaklik dat ons met mekaar praat en mekaar se
bedieninge leer ken. So kan ons mekaar help en aanvul. (Amper soos
in 'n huwelik!)