EREDIENSBESONDERHEDE

Ons hou op Sondae ‘n verskeidenheid eredienste op verskillende plekke wat ruimte skep dat mense die Here met oorgawe kan aanbid. Klik hier om die jongste erediensbesonderhede te sien.

PREKE

Klik hier om ‘n mp3-weergawe van ons eredienste in die Gemeentesentrum af te laai. Preke kan op CD by die kerkkantoor bestel word. Gaan na Kontak ons, vorms vir ‘n pdf-lys van alle beskikbare preke wat by die kerkkantoor bestel kan word. Verder sal jy op die voorblad ook die jongste preke kry wat jy sommer so direk op jou rekenaar kan luister.

BULLETIN

Wonder jy wanneer gebeur wat? Om deel te wees van Lux Mundi beteken om gereeld in te skakel! Klik hier om die jongste pdf-weergawe van ons weeklikse Bulletin af te laai en bly op hoogte van Lux Mundi se werk in die Koninkryk. 

 

Praktiese Ouerskap -
Hanteer kinderopvoeding met selfvertroue

Dr James Dobson gee verstandige raad en praktiese antwoorde op vrae oor die verhouding tussen 'n ouer en 'n kind. Hy gesels oor:

  • Vertrouenskrisisse.
  • Kinders met verskillende temperamente.
  • Druk van die samelewing.
  • Immoraliteit.
  • Vergifnis tussen 'n ouer en 'n kind.

Ouerskap kan 'n genotvolle ervaring wees. Dr Dobson se antwoord is liefde. Ferm liefde. En hierdie liefde verg moed. Dr Dobson wys jou hoe om meer as net moedig genoeg te wees - hy wys jou hoe jy jou kinders met sefvertroue kan grootmaak en hoe om 'n gebalanseerde styl te ontwikkel.  

Dr James Dobson

 

Dag na dag dra God ons (met kanker en al)

Om van jou dokter te moet hoor jy het kanker, is 'n groot skok. Dit verander lewens - dié van die persoon wat self kanker het, asook van diegene rondom hierdie persoon, sy/haar familie, die vriendekring, kollegas by die werk.

Hierdie besondere Bybelstudiedagboek is gemik op die persoon wat kanker het en sy/haar naasbestaandes. Sulke persone word stap vir stap deur die vrae geneem waarmee elkeen wat kanker opdoen, worstel. Daar word sensitief, maar tog eerlik na al die tergende vrae gekyk.

By terapeutiese en ondersteuningsgroepe sal hierdie boek besonder byval vind as 'n riglyn in die bespreking van hierdie vrae. 'n Kerngedagte, wat jy saam met jou kan dra, sal jou keer op keer versterk.  

Dr Michiel N van der Merwe

 

Ek wil graag weet

Antwoorde uit die Bybel op kwelvrae vandag

Ek wil graag weet! is 'n keur uit vrae wat oor die afgelope twintig jaar op die tafel van Johan Smit geland het in sy amp as pastorale berader by Bybelkor, Die Kerkbode en Die Voorligter.  

Johan Smit

 

Nader aan die man van Nasaret

Bybelstudie in verhaalvorm oor Petrus se lewe saam met Jesus deur Stephan Joubert 

'n Bybelstudie met 'n verskil: Petrus self word deur die loop van die boek aan die woord gestel om sy ervarings saam met Jesus eerstehands met ons te deel. Petrus se verhaal voer ons mee vanaf Kapernaum, sy geboortedorp, tot by sy dood in Rome onder die hande van die wrede keiser Nero.

Mag hierdie boek jou help om Jesus opnuut te ontdek. Mag jy deur Petrus se oë sien wie die Man van Nasaret regtig is. En mag jy daardeur nog nader aan Hom kom. 

Stephan Joubert

 

Here, ek begeer U meer

Jy kan hierdie boek vir jou Bybelstudie of jou stiltetyd gebruik.

In hierdie Bybelstudiegids word die EK IS-uitsprake van Christus behandel, byvoorbeeld wanneer Jeus sê: Ek is die brood wat lewe gee, of: Ek is die lig vir die wêreld. Dit is ons gebed dat die boek jou kennis van Christus sal verdiep en by jou – soos by Paulus – 'n passie sal opwek om Hom al beter te ken. Van elkeen van die EK IS-uitsprake kan gesê word dat dit Jesus is wat van Homself getuig sodat jy Hom beter kan ken, dien en aanbid. 

Dr Andries Odendaal

 

Senior… en gelukkig

By God het die gelowige 'n onverbeterbare voorsprong vir die toekoms. Hierdie gids vir dertig dae gee pitkos vir 'n verrykte lewe na 60.

Dr Rassie van Niekerk

 

Word ’n wêreld Christen

Jesus Christus het die visie dat almal in die hele wêreld hulle aan die heerskappy van God oorgee. Dié wonder gebeur elke oomblik. Die evangelie is op 'n onstuitbare segetog deur die wêreld. Jy kan deel hiervan wees. Die begrip wêreldsending dui op die wêreldwye sendingvisie van Jesus Christus waarvan die grense die uithoeke of eindes van die aarde is. Dit sluit alle lande en mensegroepe in aan wie die evangelieboodskap gebring moet word. 

Dr Ernt van der Walt

 

Waag dit! Om lief te hê (Fireproof)

Die wêreld is gaande oor die romantiek rondom verliefdes, ringe en beloftes. Bruidspare beloof graag onvoor-waardelike liefde aan mekaar, maar baie min leef hierdie soort liefde in die huwelik uit. Gevolglik dink getroudes dat teleurstelling en mislukking onvermydelik is. Daar is egter 'n uitweg!

Waag dit om lief te hê is 'n 40 dae-uitdaging van huwelikspare om die beginsels van onvoorwaardelike liefde te verstaan en uit te leef. Verower opnuut jou geliefde se hart, ontdek ware intimiteit en maak jou huwelik bestand teen aanslae van buite.

Dit maak nie saak of jou huwelik op die rotse is en of jy gelukkig getroud is nie, pak hierdie reis aan en jou huwelik sal beter wees as ooit! 

Stephan & Alex Kendrick

 

Gedoop met die Heilige Gees

Prof Jaap Furstenberg

 

Ek wil lééf en liefhê, Here

Ek wil lééf en liefhê, Here is 'n koevert met jou adres op – binne is Johannes se eerste brief aan jou. Wanneer jy daarmee besig raak, is dit soos om in 'n tydmasjien te klim en tussen die mense van twee duisend jaar gelede in te stap.

Johannes vertel opgewonde van Jesus, want hy het Hom met sy eie oë gesien, hy het met sy eie hande aan Hom gevat.

  • Die Bybelstudies gebruik die voëlvlug-metode en kom sprei die belangrike onderwerpe van 1 Johannes voor jou oop.
  • Kom deel in die blywende indrukke wat Jesus op mense laat.
  • Kry sekerheid in jou gemoed oor wie Jesus is, oor jou geloof in Hom en oor wat Hy nog alles vir ons kom doen het.
  • Vind uit wie die antichriste is.
  • Ontdek hoe om waarlik lief te hê en te lééf ... nou en vir ewig! 

Prof Jan van der Watt

 

Daar’s nog mense soos ek en jy

Die Bybelstudies in hierdie boekie is uitgewerk om in die behoefte op talle plekke te voorsien om oor gesins- en familieverhoudings te praat. Die studiegids bevat tien karakterstudies oor mense in die Bybel met wie vandag se mens kan identifiseer. Sake soos gesinsverhoudings tussen broers, ouer/kindverhoudings, aborsie, die depressiewe gesin, gestremdheid, die verhouding met grootouers, word aangeraak. 

Dr Roelf Opperman

 

Leef as mense van die lig – Filippense

Hierdie gids handel oor Paulus se dankiesê-brief aan die Filippense. Uit die tronk in Rome moedig hy hulle aan om as mense van die lig te leef. Hulle omstandighede was baie moeilik. Maar die nuwe lewe wat hulle in Christus ontvang het, is beter as enigiets anders. Daarom moet hulle – en ons! – sorg dat niks die vregde, glans en blydskap daarvan kan wegneem nie. 

Willie Botha

 

God se wil vir my lewe

11 Studies wat jou sal vorm in die Pottebakker se hand. God beheer ons nie soos 'n klomp willose robotte nie. Dis waar dat Hy 'n plan met ons het, maar tog dwing God ons nie om enige iets teen ons wil te doen nie. Maat wat van God se wil? Is ons só ingestel op wat óns wil hê dat ons God se wil vir ons lewe heeltemal buite rekening laat?

Hierdie Bybelstudie is bedoel vir elke Christen wat God se Woord beter wil leer ken om sy wil sodoende beter te verstaan. In 11 studies word temas soos sonde, twyfel, straf en gebed kernagtig en op die man af bespreek.

Daar is vrae aan die einde van elke studie wat die materiaal by uitstek geskik vir groepe maak. Indien jy egter nie aan 'n groeigroep behoort nie en ook met vrae rondom God se wil worstel, kan jy hierdie boek met groot vrug in jou persoonlike Bybelstudie gebruik.

Die boek kos slegs R49.95 en is by CUM-boeke te koop. 

Stephan Joubert

 

... en die Woord was self God

Die Johannesevangelie is 'n baie ryk evangelie. "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God" (Joh. 1:1). Dít is volgens Johannes die sleutel tot die verstaan van die Evangelie en Jesus se geskiedenis op aarde. Johannes wil dit vir sy lesers duidelik maak dat Jesus die Seun van God is, maar terselfdertyd ook mens geword het.

In hierdie boek ontdek hierdie Jesus!

Die boek kos R49.95 en is by CUM-boeke te koop.

Stephan Joubert

 

Die impak van God se wil

God se koninkryk gebeur daar waar volgelinge van Jesus sy omgee-liefde uitdeel aan mense wat hulleself nie kan help nie. Dit gebeur waar gelowiges Jesus se woorde ter harte neem, middelmatigheid aflê en sosiale grense oorsteek sonder om te wonder wat hulle dalk in die proses kan verloor.

In hierdie boek word die essensie van 'n geloofslewe bespreek. Jy word geïnspireer en toegerus om elke dag, waar jy ook al beweeg, 'n impak in God se koninkryk te maak. Ontdek dat kerkwees nie oor 'n gebou, tyd of reëls gaan nie, maar om orals en elke dag God se hande, voete en oë te wees in 'n stukkende wêreld wat wonder of Hy nog vir hulle omgee.

Die boek kos R99.96 en is by CUM-boeke te koop.

Stephan Joubert


Tags: Boeke

Views: 13

© 2012   Created by Lux Mundi.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service