Die Heilige Gees het een van ons gemeente se voorbidders gelei in 'n gebed vir die leraars van ons gemeente. As jy dus voel jy wil vir die dominees bid, maar jy weet nie hoe en wat nie, gebruik hierdie gebed van tannie Lettie:
Ons Almagtige, Heilige God en liefdevolle Vader,
Heerlik is dit vir my om in stilte en bewondering voor U te mag kniel in aanbidding. Hier in U heilige teenwoordigheid laat U my voel ek is spesiaal en kosbaar. Dankie Heer.
In diepe afhanklikheid, nederig en met eerbied bring ek vandag ons leraars, ds Elsje, ds Marnette, ds Lourens, ds Johan, ds Sebastiaan en ds Paul en hulle gesinne voor U ons Hemelkoning en buig ons almal voor u hemeltroon.
Liefdevolle Vader, hoor my asseblief pleit vir ons leraars se eggenote, Willem, Ronell, Annalie, Natasha en Rika. Seën hul Heer, in al hul pogings om in fyn aanvoeling hul eggenote te ondersteun, aan te moedig en by te staan met hul roeping in U diens. Motiveer hulle en gee hulle al die tyd, vrede, vreugde, liefde, kennis, insig en wysheid wat hulle benodig. Vader, seën ook elke kind in hierdie huisgesinne en help hulle almal om volgens U wil en plan vir hulle te mag leef.
Ons alomteenwoordige God, ek pleit, maak elke lied van hierdie huisgesinne vry van die vyand se invloed in hul lewe en laat hul net voel U is lief vir hulle. Ek pleit, Vader, dat daar altyd ’n laer engele rondom hulle sal wees om hulle te behod, bewaar en te beskerm. Dankie Vader.
Seën asseblief ook hulle huise en motorhuise en alles wat daarin is. Dankie dat U ook hul voorsiener is, en dat U hulle beter versorg as wat ons ooit kan dink of vra. Vader, hou hulle asseblief altyd gesond en hou alle siektes en kwale van hulle af weg.
Hemelvader, ek pleit vir elke lid van hierdie huisgesinne dat, wanneer hulle hul tuistes verlaat in hul voertuie, U hulle in veilige bewaring sal neem. Eis asseblief die paaie wat hulle gebruik op sodat hulle en almal wat die paaie saam met hulle gebruik, veilig by hul bestemmings sal aankom. Maak hulle asseblief ook toe met Jesus se kosbare bloed dat niks en niemand hul te na sal kom nie. Maak Uself vir hulle die paaie oop, asb. Dankie Vader.
Genadige Vader, seën asseblief vir ds Elsje, ds Marnette, ds Lourens, ds Johan, ds Sebastiaan en ds Paul in al hul pogings in U diens as dienaars van u Koninkryk. Maak hul sterk sodat hulle gehoorsaam sal wees aan die Heilige Gees. Laat hulle asseblief U stem baie duidelik hoor en lei hulle wat en wanneer om te preek. U ken elke lidmaat en U weet wat ons nodig het. Vader, ek vra ook dat hulle geestelik sal groei, om gemotiveerd te wees, om nie moedeloos te word nie, maar aan U lieflike hand vas te hou. Gee asseblief aan hulle geestelike oë en ore en dat hulle al die gawes sal hê wat hulle nodig mag kry in diens van U vir die gemeente.
Genadige Vader, hoor en verhoor asseblief elke gebed en versugting wat hulle mag hê. Laat hulle altyd in U heilige teenwoordigheid voel dat hulle spesiaal, kosbaar en waardevol is. Gee aan hulle ’n besondere liefde vir die gemeente Lux Mundi. Gee asseblief dat die gemeente hulle sal liefhê, koester en in oorvloed sal versorg.
Dankie Vader dat alles wat ek in hierdie gebed voor U genoem en gevra het vir ons leraars en hulle gesinne so sal wees. Heer, ek vra alles in die lieflike Naam van ons Here Jesus Christus en laat alles tot U eer en verheerliking wees. Halleluja! Amen.
Lettie Coetzee 082 855 8979