Die uitstaande kenmerke van postmoderniteit, soos uitgewys in die eerste tema, is die volgende:
• Die eensydigheid van rasionalisme in moderniteit maak plek vir 'n breër rasionaliteit.
• Naïewe optimisme oor vooruitgang deur wetenskap en tegnologie hou op. Groter realisme oor wat ons van die wetenskap en tegnologie kan verwag.
• Die meesternarratiewe wat vir mense voorskryf hoe en wat hulle moet wees, verloor hulle houvas
• Vastighede verkrummel
• Pluralisme, met 'n gepaardgaande relativisme: vir baie mense is daar net nie meer iets soos vaste waarhede nie.
• Gelykberegtiging, gemarginaliseerdes kry 'n plek en stem
DIE SITUASIE IN SA
Kan ons in Suid Afrika ook praat van 'n postmoderne samelewing? Ons moet in berekening hou dat daar met die verandering in politieke bedeling (na 1994) geweldige skuiwe plaasvind wat die Afrikaners op die volgende maniere raak:
• Die besef tref die Afrikaners: "Ons is maar een klein groepie tussen al die groepe en volke in die land."
• Die dominante meesternarratiewe van Afrikaner verloor hulle krag
• Godsdienspluraliteit kom duidelik na vore
• Die Christendom verloor sy voorkeurposisie in die staat, die media en onderwys (vgl die huidige stryd oor godsdiens in skole: al is 'n bepaalde samelewing duidelik oorwegend Christelik, beteken dit nie vir die regering dat die skole ook 'n uitdruklik Christelike karakter mag dra nie.)
• Afrikaners leef nie langer in 'n geïsoleerde gemeenskap nie, maar word skielike blootgestel aan die groot wêreld, ons word skielik deel van die "global village".
• Die SA gemeenskap is tegelyk pre-modern, modern en postmodern. 'n Belangrike kenmerk van SA is dat hier 'n groot pre-moderne gemeenskap is. Dit is egter 'n kenmerk van hierdie tyd dat die gemeenskappe nie 'n monokultuur het nie.
KENMERKE VAN POSTMODERNE MENSE
1. MENSBESKOUING / SIENING VAN DIE SELF
Verskillende metafore word gebruik word gebruik om te beskryf hoe die mens saamgestel is, en hoe die menslike psige werk. Ook die Bybel gebruik baie verskillende metafore.
Die dominante metafoor in 20ste eeu is waarskynlik Freud se idees dat die menslike psige bestaan uit verskillende dele, die ego, id, en superego. Die belangrikste van hierdie metafoor is dat die belangrikste deel van ons psige in die onderbewuste geleë is. Dit is soos 'n ysberg onder die water en verborge vir mens self. Dit bepaal ons emosies en gedrag op allerhande maniere waarvan mens nie self bewus is nie. Om toegang te kry tot die onderbewuste, het mens 'n ekspert nodig wat deur psigoanalise vir jou kan vertel wat eintlik met jou aan die gang is.
In postmoderniteit word die self op nuwe maniere beskryf. Drie van die belangrikste metafore is die volgende:
• collage,
• verhale en
• verhoudings.
Die metafoor van die collage wil sê dat mense se lewens en identiteite baie kompleks is, met baie fasette, onverwagte dinge en sonder dat daar altyd 'n ooglopende samehang is. Die verwantskappe tussen gebeure, idees en optredes is dikwels subtiel en vra dat mens mooi kyk om dit raak te sien. En selfs dan is daar dinge wat nie "pas" nie en eintlik verrassend is.
Die metafoor van verhale kan aan die hand van 'n kaart verduidelik word:

Elke kolletjie op die kaart stel een of ander gebeure in 'n persoon se lewe voor. Die gebied van 'n persoon se lewe sal uit 'n byna oneindige hoeveelheid kolletjies kan bestaan.

Mense verbind bepaalde gebeure met mekaar wanneer hulle, hulle selfnarratiewe konstrueer, soos wat paaie op 'n kaart verskillende plekke verbind. Watter gebeure ingesluit word en hoe dit verbind word, hang af van die betekenis wat 'n persoon daaraan gee. 'n Selfnarratief is altyd 'n seleksie en altyd die draer van betekenis.

In elke mens se lewe is daar 'n klomp verskillende verhale wat mense vertel oor verskillende aspekte van hulle lewe. Die verhaal wat iemand oor hom/haarself in 'n kerklike byeenkoms sal vertel, sal anders wees as een wat mens vertel by 'n vakkundige konferensie. Hierdie verhale se samehang is nie altyd vanselfsprekend duidelik nie. Die waarde wat mense aan gebeure heg word ook beïnvloed deur die meesternarratiewe van die omgewing. 'n Bendelid op die Kaapse vlakte heg dalk 'n positiewe waarde aan 'n verhaal oor 'n moord wat hy gepleeg het, terwyl 'n gelowige wat vertel van sy lewe voor sy bekering 'n baie negatiewe waarde daaraan sal heg as hy 'n moord gepleeg het. Die belangrikste van hierdie metafoor is egter dat mense self hulle lewensverhale konstrueer.
Die verhoudingsmatige self

Hierdie metafoor wil iets daarvan oordra dat mens in 'n klomp verskillende verhoudings staan en nie in elke verhouding presies dieselfde is nie. Byvoorbeeld: die manier waarop jy praat as jy met jou kinders op die grasperk speel, verskil van die manier waarop jy praat as jy 'n voorlegging aan die bestuur van 'n jou maatskappy maak. Dit is deel van sosiale vaardigheid dat mens kan onderskei wat soort gedrag pas in watter omstandigheid. Soms verskil mense se gedrag egter soveel tussen verskillende verhoudings dat jy amper nie die persoon kan herken nie.
OP WATTER MANIERE DRA HIERDIE METAFORE DIE GEES VAN POSTMODERNISME?
• Die self is nie vas nie, maar is vloeibaar en manifesteer verskillend in verskillende verhoudings en verskillende omstandighede.
• Mense vertel verskillende verhale oor wie hulle is vir verskillende mense en in verskillende kontekste
• Ek kies myself, laat my nie voorskryf deur verwagtings, idees, norme van wat ek behoort te wees nie.
• Postmoderne skrywers praat dikwels van "my many selves", waarmee hulle wil sê dat hulle beleef dat hulleself en ander mense nie enkelvoudig is nie.
• Sommige mense voel versplinterd, onseker, sonder vastigheid.
2. ANDER KENMERKE VAN POSTMODERNE AFRIKANERS
• Baie Afrikaners voel na 1994: "Dankie tog, ek is bevry van onderdrukkende meesternarratiewe." Een van die meesternarratiewe waarvan 'n groep "verlos" voel, is van die Calvinisme, die kerk en Christendom.
• By baie is daar 'n groot agterdog oor gesagstrukture,
• Lae lojaliteit aan instellings maar verhoudings tel punte.
• Lae skuldbewussyn, vir baie mense is dit taboe om selfs van "sonde te praat
• Die seksuele moraal verander soos wat sensuur verslap begin baie mense hulle losmaak van die Bybelse beginsels oor seksualiteit.
• Gesinstrukture verbrokkel
• Cocooning: mense trek hulle terug in hoë tegnologie grotte agter hoë en ondeurdringbare mure waar hulle d m v die tegnologie en media selfgenoegsaam lewe.
• Clanning: Mense trek saam in "clans" van bekende mense en beperk blootstelling aan mense wat hulle nie kies nie. "People want to go where the faces are familiar and the conversations are easy".
• Vitalisme: om hier en nou te leef is vir baie mense die belangrikste waarde. Die konsep "being alive" wil iets sê van 'n ingesteldheid waarin gesondheid, selfverwesenliking en selfaktualisering die hoogste waarde is.
• Mense is visueel ingestel, wil sien eerder as lees of hoor.
• Baie mense leef selfgesentreerd. Die konsep "ego-nomics" verwoord dat mense nie as deel van die skare behandel wil word nie of kompromieë wil aangaan nie. Ek wil in my eie reg erken word en dinge moet wees soos ek dit wil hê
• Mense se lewens is gevul met 'n magdom aktiwiteite, baie mense leef inderdaad ”99 lives".
WAT SÊ DIE EVANGELIE OOR MENSE?
• Bybel verstaan mense primêr as verhoudingswesens. Baie lank voor postmoderne skrywers dit begin sê het, sê teoloë dit al: "God het ons gemaak om in verhoudings te leef."
• Die mens is 'n eenheidswese: hart, siel, gees & liggaam bly een wese. Mens het wel 'n innerlike, maar is nie verdeeld tussen 'n minderwaardige liggaam en waardevolle siel nie. Dit is 'n Griekse idee.
• Die hele mens is verlore, die hele mens word gered. Daarom staan Jesus ook liggaamlik uit die dood op, en die verlossing beteken dat ons met die wederkoms liggaamlik sal opstaan uit die dood.
• Die verlossingsboodskap van Jesus is die uitnemende "herskryf van jou lewensverhaal". Paulus gebruik baie keer narratiewe terme: ons het saam met Jesus aan die kruis gesterf en saam met Hom uit die dood opgestaan en nou leef ons die lewe van die nuwe mens.
• Die Bybel gebruik ook biologiese metafore om die verlossing te verduidelik: wedergeboorte, God gee ons 'n nuwe hart, 'n nuwe Gees, en 'n nuwe natuur.
• Dit is egter belangrik om te sien dat dit nie die mens alleen is wat sy/haar lewensverhaal herskryf nie. As mens 'n gelowiges word, is God self aan die werk. Daarom is bekering en wedergeboorte sulke ingrypende vernuwende gebeure.
• Geloof bied samebindende kragte & lyne in die verskillende verhale / collage / verhoudings waaruit gelowiges se lewens bestaan.
• Geloof bring ons in nuwe verhoudings:
o Met God: ons word sy kinders, erfgename, volgelinge
o Met mense: ons is almal saam medeburgers van die volk van God, lede van die huisgesin van God; ledemate van die liggaam van Christus; en lewende stene in die gebou van God.
• In 'n tyd waarin mense verward is oor reg en verkeerd, bied die Bybel vir mense antwoorde oor etiek en lewenskuns
• Die Evangelie vertel vir ons hoedat God mense insluit, nie marginaliseer nie.
• Die Bybel vertel baie van die hoë waarde wat mense vir God het
• Die Bybel gee vir mense hulle persoonlike verantwoordelikheid terug. Ons is nie maar net slagoffers van of produkte van ons omstandighede of diskoerse nie.
• Christenskap gee moontlikhede vir 'n betekenisvolle lewe: deur diens en ander-gesentreerdheid
• In 'n wêreld waar baie mense nie eers wil dink oor skuld en sonde nie, praat die evangelie van vryheid van die skuld en mag van sonde
GELOWIGES IN 'N POSTMODERNE WÊRELD
• God eis onverdeelde trou aan Hom alleen: ons sentrale verhouding is met Hom, en hierdie verhouding moet al ons ander verhoudings bepaal. Ons waardestelsels word gebore uit hierdie allereerste verhouding met God. Daarom is ons nie versplinterde mense nie, maar mense wat leef vanuit 'n sentrale waardestelsel.
• Die sentrale verhaal van ons lewens is dat ons saam met Christus gesterf en opgestaan het. Ons verstaan ons lewensverhaal as dat ons nuwe mense is wat herskep is vir 'n nuwe lewe. Hierdie sentrale verhaal beteken ook dat ons nie self ons lewensverhale, op outonome wyse mag skryf nie, maar dat God die primêre outeur van ons lewensverhale is.
• Hierdie twee dinge moet al ons ander verhoudings en verhale bepaal!
• Kan God ons in 'n postmoderne wêreld vertrou met nuwe bekeerlinge? God verwag van ons om in die wêreld te leef, maar om nie aan die sondige wêreld gelykvormig te word nie. Dit is 'n belangrike vraag om te vra of ons sodanig aan God toegewy is, dat Hy ons kan vertrou dat met nuwe gelowiges. Sal hulle by ons kan sien wat dit beteken dat 'n gelowige se verhouding met God die sentrale verhouding in jou lewe is?
Dr Lourens Bosman
Julie 2003