EREDIENSBESONDERHEDE

Ons hou op Sondae ‘n verskeidenheid eredienste op verskillende plekke wat ruimte skep dat mense die Here met oorgawe kan aanbid. Klik hier om die jongste erediensbesonderhede te sien.

PREKE

Klik hier om ‘n mp3-weergawe van ons eredienste in die Gemeentesentrum af te laai. Preke kan op CD by die kerkkantoor bestel word. Gaan na Kontak ons, vorms vir ‘n pdf-lys van alle beskikbare preke wat by die kerkkantoor bestel kan word. Verder sal jy op die voorblad ook die jongste preke kry wat jy sommer so direk op jou rekenaar kan luister.

BULLETIN

Wonder jy wanneer gebeur wat? Om deel te wees van Lux Mundi beteken om gereeld in te skakel! Klik hier om die jongste pdf-weergawe van ons weeklikse Bulletin af te laai en bly op hoogte van Lux Mundi se werk in die Koninkryk. 

Die simboliese begin van die postmoderne era is om 15:32 op 15 Julie 1972. 
DIE TYE VERANDER

Die simboliese begin van die postmoderne era is om 15:32 op 15 Julie 1972. Op daardie moment vind die inploffing van die Pruitt-Igoe behuisingskema in St. Louis in die Amerikaanse staat Missouri plaas. Die kompleks is as gevolg van maatskaplike probleme, misdaad en vandalisme nie langer geag as bewoonbaar deur die laer inkomstegroep waarvoor dit gebou is nie.  Wat hierdie gebeurtenis belangrik (en ironies!) maak, is dat hierdie einste Pruitt-Igoe skema gebaseer is op die bekroonde idees van die argitek Le Corbussier se "machine for modern living" in die hoogbloei van die modernisme in argitektuur. Van hier af het argiteksontwerpe vir "Die Mens", al meer begin plek maak vir geboue vir mense, die modernistiese toringblokke word al meer vervang met geboue op 'n menslike skaal.
Vandag word daar al meer en al wyer erkenning gegee dat ons te doen het met 'n grondverskuiwing in die wêreldkultuur. Hierdie verskuiwing word gewoonlik gesien as 'n skuif van modernisme na postmodernisme. Die maklikste manier om 'n greep te kry van wat postmodernisme beteken, is om dit te sien 'n kontras met die modernisme.


MODERNISME

Die vroegste wortels van die modernisme lê in die Renaissance, wanneer die westerse wêreld hom begin loswikkel uit die Middeleeue, wat gewoonlik as pre-modern beskou word. Die filosoof Descartes se stelling: "Ek dink, daarom is ek", is 'n volgende baken. Die mens se vermoë tot redelike denke word gesien as die teenvoeter vir die onsekerheid van die Middeleeue. Nog 'n filosoof, Immanuel Kant, het mense aangespoor met die woorde: "Sapere aude", "Hê die moed om jou rede te gebruik".

Hierdie klem op redelike denke is die groot kenmerk van die modernisme, en ook die grondslag van die wêreld soos ons dit ken. Die volgende is 'n paar kenmerke van die die moderne era:

o Dit is die era van die mondigwording en mondigheid van die mens.

o Die opkoms en ontwikkeling van die natuurwetenskappe en tegnologie.

o In hierdie tyd is daar geweldige vooruitgang en tegnologiese prestasies.

o Die groot ekonomieë ontwikkel, en kapitalisme begin die ekonomie domineer.

o Demokrasieë en nasiestate vervang koninkryke.

o In die godsdiens is dit die heel belangrikste om te verstaan wat jy glo. Ons eie belydenisskrifte kom in hierdie tyd tot stand.

o Ateïsme as denksisteem ontwikkel: as jy God nie kan bewys nie, dan bestaan Hy nie.


Alexander Pope se grafskrif vir die grondlegger van die fisika, Isaac Newton, sê baie duidelik iets van die manier waarop oor die wetenskap en die krag van die rede gedink is: 

Nature and Nature's laws lay hid in night
God said, Let Newton be! And all was light


Die groot kenmerk van die modernisme is die geweldige optimisme oor die krag van die rede, die mens se vermoëns, en die vooruitgang wat die wetenskap vir almal sal bring.


Tog vind daar in die 20ste eeu 'n klomp dinge plaas wat hierdie optimisme sou skok:

Skokke


o 1912   Die Titanic, die skip wat selfs God nie sou kon sink nie, sink op haar nooiensvaart

o 1914; 1939  2 wêreldoorloë skud die kultuuroptimisme van die Weste: die mens is toe nie so goed as wat almal gedink het nie. Die atoombomme op Hirosjima en Nagasaki lui die koue oorlog in en almal besef dat tegnologiese vooruitgang die uitwissing van die mensdom kan beteken. 

o Feministe, teoloë en filosowe wys die onderdrukking en vervreemding wat in die wêreld aan die gang is, uit. Vooruitgang bevoordeel hoofsaaklik 'n paar groepe mense, veral Europese mans, terwyl baie ander nie daarin deel nie.

o Afrika se geskiedenis wys dat ontwikkeling nie noodwendig voorspoed bring nie, soms bring dit groter ellende.

o In SA misluk die groot "social engineering"-projek van apartheid.


POSTMODERNISME

In die laaste paar dekades begin die idees en die tydsgees van die modernisme plek maak vir iets anders: postmodernisme. Die woord post-modernisme beteken letterlik: "na die modernisme". Postmodernisme is nie anti-modernisties asof ons nou besig is om ontslae te raak van redelike denke, tegnologie of wetenskap nie. Dit is eerder:

'n  REAKSIE op die donker kant van modernisme,
'n KORREKSIE van sekere eensydighede,
maar tog ook  'n VOORTSETTING van modernisme.


Waarskynlik is postmodernisme 'n oorgangstyd na iets anders, iets wat nog besig is om vorm te kry. Bill Easum praat van postmodernisme as  "A crack in history" . Die oue is aan die verbygaan, maar die nuwe is nog nie heeltemal met ons nie. 


Die volgende tabel kontrasteer 'n klompie kenmerke van die modernisme met die nuwe manier van dink in die postmoderne era:


 MODERNISME  POSTMODERNISME
 Optimisme oor kultuur, tegnologie, vooruitgang   Verlies aan naïewe optimisme
 Rasioneel, logika, intellek  Intuïtiewe kennis, aanvoeling, ervaring.
 Dink vanuit beginsels, van fondasies af boontoe   Veelvlakkige redenering, neem baie faktore in ag
 Die een OF die ander  Die een EN die ander
 Objektiewe kennis en waarheid is ideaal  Alle waarhede / kennis word deur mens beïnvloed
 Individualisme en onafhanklikheid  Netwerke, interafhanklikheid
 Meesternarratiewe wat voorskryf hoe mens moet wees en optree: homogeniteit  Eiesoortigheid, andersheid word omhels


In die Teologie en kerk is daar ook 'n klomp belangrike verskuiwings besig om plaas te vind:


 MODERNISME  POSTMODERNISME
 Moet God bewys, verdedig voor die wetenskap  Hoef God nie te bewys nie
 Ortodoksie, die leer van die kerk is die belangrikste. Om lidmaat te wees, moet jy die leer ken.  Ortopraksie (die regte lewe) en etiek is belangrik
 Bewys dit vir my  Wys vir my
 God die Vader, Skepper, orde  Heilige Gees, misterie
 Die instituut is belangrik  Verhoudings is belangrik
 Bou kerke en denominasies  Bou die Koninkryk
 Hiërargiese sisteme, gesag van bo af  Organiese sisteme, netwerke
 Spiritualiteit voorgeskryf, almal aanbid min of meer dieselfde  Diverse spiritualiteite kry plek in die kerk
 Spiritualiteit oorwegend rasioneel  Spiritualiteit vir die hele mens



In die modernistiese paradigma het ons geweet (of gedink ons weet!), hoe lyk die deursnee NG lidmaat. Nou weet ons een ding: daar is nie iets soos 'n deursnee NG lidmaat nie.

Die volgende lys vat 'n paar BELANGRIKE KENMERKE van postmodernisme saam:

1. 'n BREËR RASIONALITEIT word erken: emosies, liggaamlikheid, intuïsie, aanvoeling en belewenis is belangrik

2. 'n Fundamentele AGTERDOG OOR META-NARRATIEWE of diskoerse wat wil voorskryf hoe mense moet wees of dink. Die Boetman-debat was 'n uitstekende voorbeeld van hoe mense hulle losmaak van sulke meta-narratiewe

3. Baie VASTIGHEDE VERKRUMMEL. Die woorde van Yeats word dikwels angehaal as uitdrukking van wat aan die gebeur is:

"Things fall apart; the centre cannot hold
Mere anarchy is loosed upon the world"
         
4. AGTERDOG oor die mag van die rede, effek van eksperts op mense. Mense dink nie meer dat geleerdes, wetenskaplikes en kundiges noodwendig beter weet nie.

5. 'n Stem en plek vir GEMARGINALISEERDES: groepe wat tevore nie as belangrik genoeg gereken is om na te luister nie (vroue, gays, geskeides, gestremdes, minderheidsgroepe), kry nou 'n stem. 

6. Ons woon in 'n GLOBAL VILLAGE: die kommunikasiemedia maak die wêreld klein. Wat vandag in Amerika gebeur, beïnvloed môre hoe ons dink, aantrek, watter musiek ons luister en waaroor ons gesels.

7. PLURALITEIT. Hierdie is dalk die enkele, belangrikste kenmerk van postmoderniteit. Ons word daagliks blootgestel aan talle uiteenlopende standpunte, sienings, waardestelsels en gelowe. Elke siening het die reg op 'n plek, nie een mag aanspraak dat hy alleen die waarheid is nie.


REAKSIES OP POSTMODERNISME

Christene reageer op 'n verskillende maniere op hierdie groot verskuiwings wat besig is om plaas te vind:

1. Hou die wêreldse dinge weg van ons, wat in die wêreld om ons aangaan, raak ons nie.  Dikwels is daar by sulke mense 'n neiging na pre-modernisme: "Ek wil ook nie te veel nadink oor my geloof nie."


2. Ander wil vashou aan bekende van die modernisme: "Dit het tot nou toe vir my gewek, moenie daarmee lol nie." Baie Afrikaners voel dat dinge net asseblief nie in die kerk moet verander nie: "Alles verander: die politiek, rugby, TV, skole, ons werksituasie. Hou tog net die kerk dieselfde"


3. By sommige is daar 'n totale boedeloorgawe: hulle neem postmoderne neigings kritiekloos oor en gee so die Christelike identiteit prys. Pluraliteit beteken vir sommige mense: vermenging van godsdienste


4. In Lux Mundi is ons standpunt: "Hierdie postmoderne wêreld en postmoderne mense is die wêreld en die mense wat ons moet bereik".  
 
4 Sleutelbeginsels geld hier:


i. Ons hou vas aan ons SENTRALE BOODSKAP: die evangelie van Jesus Christus

1 Kor 9:19  Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen
23  Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.
Ons het 'n kern-identiteit waaraan ons vashou, en dit is dat ons die kerk van Jesus Christus is en niemand anders nie. Ons het ook geen ander mandaat as om die evangelie van Christus te verkondig nie.


ii. Ons moet sensitief wees vir die KULTUURGAPING wat daar bestaan tussen mense se postmoderne leefwêreld en die taal en kultuur en van die kerk. Hierdie kultuurgaping kan maak dat mense heeltemal vervreemd voel van wat in die kerk gebeur.
Om mense vir Christus te wen, moet ons hulle ontmoet waar hulle is. Dit is die ons taak om die kultuurgaping te oorbrug. 

1 Kor 9:20-22  Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet staan nie, het ek my, vir die wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. (...) 22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elke geval sommige te red
.
iii. Ons sal moontlik AANPASSINGS moet maak in vorm, in die aanbieding van die Evangelie.

Dit beken beslis nie dat die inhoud van die boodskap of die kern-identiteit van die kerk aangetas mag word nie. Wat dit wel beteken is dat ons bediening kultuursensitief moet wees. 


iv. Sluit aan by BYBELSE LYNE wat pas in hierdie tyd.

Die Bybel is 'n baie dik boek, met baie verskillende lyne, verhale en maniere van doen waarvan dit vertel. Die situasie in die Nuwe Testament, met die Christendom as klein minderheidsgroep in 'n pluralistiese wêreld, het beslis baie te sê oor kerkwees in ons postmoderne wêreld. Ons moet dit net met nuwe oë gaan lees.


Dr Lourens Bosman
Julie 2003

Tags: nadenke

Views: 49

© 2012   Created by Lux Mundi.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service