In die modernistiese paradigma het ons geweet (of gedink ons weet!), hoe lyk die deursnee NG lidmaat. Nou weet ons een ding: daar is nie iets soos 'n deursnee NG lidmaat nie.
Die volgende lys vat 'n paar BELANGRIKE KENMERKE van postmodernisme saam:
1. 'n BREËR RASIONALITEIT word erken: emosies, liggaamlikheid, intuïsie, aanvoeling en belewenis is belangrik
2. 'n Fundamentele AGTERDOG OOR META-NARRATIEWE of diskoerse wat wil voorskryf hoe mense moet wees of dink. Die Boetman-debat was 'n uitstekende voorbeeld van hoe mense hulle losmaak van sulke meta-narratiewe
3. Baie VASTIGHEDE VERKRUMMEL. Die woorde van Yeats word dikwels angehaal as uitdrukking van wat aan die gebeur is:
"Things fall apart; the centre cannot hold
Mere anarchy is loosed upon the world"
4. AGTERDOG oor die mag van die rede, effek van eksperts op mense. Mense dink nie meer dat geleerdes, wetenskaplikes en kundiges noodwendig beter weet nie.
5. 'n Stem en plek vir GEMARGINALISEERDES: groepe wat tevore nie as belangrik genoeg gereken is om na te luister nie (vroue, gays, geskeides, gestremdes, minderheidsgroepe), kry nou 'n stem.
6. Ons woon in 'n GLOBAL VILLAGE: die kommunikasiemedia maak die wêreld klein. Wat vandag in Amerika gebeur, beïnvloed môre hoe ons dink, aantrek, watter musiek ons luister en waaroor ons gesels.
7. PLURALITEIT. Hierdie is dalk die enkele, belangrikste kenmerk van postmoderniteit. Ons word daagliks blootgestel aan talle uiteenlopende standpunte, sienings, waardestelsels en gelowe. Elke siening het die reg op 'n plek, nie een mag aanspraak dat hy alleen die waarheid is nie.
REAKSIES OP POSTMODERNISME
Christene reageer op 'n verskillende maniere op hierdie groot verskuiwings wat besig is om plaas te vind:
1. Hou die wêreldse dinge weg van ons, wat in die wêreld om ons aangaan, raak ons nie. Dikwels is daar by sulke mense 'n neiging na pre-modernisme: "Ek wil ook nie te veel nadink oor my geloof nie."
2. Ander wil vashou aan bekende van die modernisme: "Dit het tot nou toe vir my gewek, moenie daarmee lol nie." Baie Afrikaners voel dat dinge net asseblief nie in die kerk moet verander nie: "Alles verander: die politiek, rugby, TV, skole, ons werksituasie. Hou tog net die kerk dieselfde"
3. By sommige is daar 'n totale boedeloorgawe: hulle neem postmoderne neigings kritiekloos oor en gee so die Christelike identiteit prys. Pluraliteit beteken vir sommige mense: vermenging van godsdienste
4. In Lux Mundi is ons standpunt: "Hierdie postmoderne wêreld en postmoderne mense is die wêreld en die mense wat ons moet bereik".
4 Sleutelbeginsels geld hier:
i. Ons hou vas aan ons SENTRALE BOODSKAP: die evangelie van Jesus Christus
1 Kor 9:19 Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen
23 Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.
Ons het 'n kern-identiteit waaraan ons vashou, en dit is dat ons die kerk van Jesus Christus is en niemand anders nie. Ons het ook geen ander mandaat as om die evangelie van Christus te verkondig nie.
ii. Ons moet sensitief wees vir die KULTUURGAPING wat daar bestaan tussen mense se postmoderne leefwêreld en die taal en kultuur en van die kerk. Hierdie kultuurgaping kan maak dat mense heeltemal vervreemd voel van wat in die kerk gebeur.
Om mense vir Christus te wen, moet ons hulle ontmoet waar hulle is. Dit is die ons taak om die kultuurgaping te oorbrug.
1 Kor 9:20-22 Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet staan nie, het ek my, vir die wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. (...) 22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elke geval sommige te red
.
iii. Ons sal moontlik AANPASSINGS moet maak in vorm, in die aanbieding van die Evangelie.
Dit beken beslis nie dat die inhoud van die boodskap of die kern-identiteit van die kerk aangetas mag word nie. Wat dit wel beteken is dat ons bediening kultuursensitief moet wees.
iv. Sluit aan by BYBELSE LYNE wat pas in hierdie tyd.
Die Bybel is 'n baie dik boek, met baie verskillende lyne, verhale en maniere van doen waarvan dit vertel. Die situasie in die Nuwe Testament, met die Christendom as klein minderheidsgroep in 'n pluralistiese wêreld, het beslis baie te sê oor kerkwees in ons postmoderne wêreld. Ons moet dit net met nuwe oë gaan lees.
Dr Lourens Bosman
Julie 2003