Die Amerikaanse gemeente konsultant, Bill Easum, vertel die volgende storie wat hy tydens een van sy konsultasies raakgeloop het.
| Modernisme |
Postmodernisme |
Die sentraliteit van die individu
|
Die sentraliteit van gemeenskap |
| Die betroubaarheid van menslike waarneming |
Die kompleksiteit van menslike waarneming |
| Die objektiwiteit van waarheid |
Die subjektiwiteit van waarheid |
| Die primaat van die rede |
Die primaat van ervaring |
| Die noodwendigheid van vooruitgang |
Die broosheid van vooruitgang |
| Die sekerheid van absolute waarhede |
Die onwerklikheid van absolute waarhede |
| Die onsekerheid van die bonatuurlike |
Die enormiteit van die spirituele |
| Die uniformiteit van wêreldbeskouing |
Die pluraliteit van wêreldbeskouings |
(Earl Creps - Disciplemaking in a Postmodern World)
'N POSTMODERNE STORIE
Bill Easum
Die Amerikaanse gemeente konsultant, Bill Easum, vertel die volgende storie wat hy tydens een van sy konsultasies raakgeloop het. Die predikant het die storie al 'n hele klomp kere vertel, en sommige detail mag dalk nie meer presies korrek wees nie. Gelukkig is dit so dat die mees betekenisvolle waarhede selde in detail gesetel is.
Die hoofkarakter in hierdie storie is Jerry, 'n jong man in sy twintigerjare. Jerry was 'n uitstekende kitaarspeler en op Saterdagaande het hy in 'n nagklub gespeel. Aan die einde van elke aand se optrede het Jerry sy $200 gevat en met sy rook deurdrenkte klere huis toe gegaan. Sy vrou het as kelner gewerk in 'n plaaslike restaurant om te help om hulle geldsake te laat klop.
Op 'n dag het een van Jerry se vriende gebel en hom gesmeek om die Sondag in hulle kerk se orkes te kom uithelp: die kitaarspeler was siek. Die kerk sou hom niks anders kon betaal nie as net met dankbaarheid. Hulle jarelange vriendskap het Jerry onder 'n verpligting geplaas en hy het ingestem Maar net vir die een keer, want Jerry het regtig geen erg gehad aan godsdiens nie. Sy mening was dat dit eintlik net swakkelinge is wat godsdiens nodig het.
Daardie Sondagoggend toe Jerry in die orkes speel, het hy dit tot sy verbasing nogal geniet in die geselskap van die swakkelinge. Hulle nabyheid aan mekaar en die feit dat hulle gebid het voor hulle speel, het hom gefassineer. Hoekom sou hulle dit doen? Niemand het tog God se hulp nodig om jou talente te gebruik nie. Maar eintlik het iets anders hom meer getref. Want na die gebede het die lede van die orkes mekaar omhels met trane in hulle oë en glimlagte op hulle gesigte.
'n Paar maande het verbygegaan. Jerry het steeds in die nagklub gespeel. Maar een dag het sy vriend hom gevra of hy dit sou oorweeg om elke Sondag in die kerk se orkes te speel. Een van hulle lede het verhuis en die orkes het gedink Jerry sou 'n goeie een in sy plek wees. Die betaling is ongelukkig net $50 per week. Maar die orkeslede hou regtig van hom dit sou vir hulle 'n voorreg wees om saam met hom te speel.
Jerry was erg verbaas dat hulle hom gevra het om deel te word van die orkes omdat hy geen geheim daarvan gemaak het dat hy nie 'n Christen is nie. Hy en sy vriend het sy gevoel oor godsdiens al 'n paar keer bespreek. Maar Jerry het die geld nodig gehad, en daarom het hy die aanbod aanvaar.
'n Paar maande later het Jerry vir sy vrou gesê dat om tot 2 uur die oggend in die nagklub orkes te speel en dan die volgende oggend om 7:30 al weer in die kerk te wees, net te erg vir hom word. Hy het besluit op te hou om in die kerk se orkes te speel. Maar hy het ook vir haar vertel dat dit vir hom baie sleg is om te bedank. Dit was vir hom baie lekkerder om in die kerk te speel as in die nagklub, maar hy moes 'n keuse maak en hulle het die geld nodig.
Sy vrou se reaksie het Jerry onkant gevang: "Ek wil liewers dat jy die nagklub werk bedank. Ek hou baie meer van jou vandat jy in die kerk speel. Om die waarheid te sê, jy het soveel verander dat ek bereid is om 'n tweede werk te soek sodat jy kan aanhou om in die kerk te speel. Ek dink ek sal selfs saam met jou begin gaan."
Jerry het haar aanbod aanvaar want hy het regtig van die mense in die kerk se orkes begin hou. Maar hy het ook gevoel dat hy sy vriend moet waarsku. Hy het die orkes duidelik laat verstaan dat die feit dat hy by hulle aansluit nie beteken dat hy nou in georganiseerde godsdiens of selfs in God begin glo nie. Tog moes hy teenoor hulle erken dat hy nie meer dieselfde persoon van tevore was nie.
Die orkeslede het vir Jerry al die tyd gegun wat hy nodig gehad het. Hulle het besef dat hy die lang, postmoderne reis na Christus begin het. Hulle het maar aangehou om saam te bid voor elke optrede en met hulle Bybelstudie voor elke oefening. Elke keer het hulle vir Jerry genooi om by hulle aan te sluit as hy so sou voel. Agter sy rug het hulle ook saamgesweer om hom spesiaal lief te hê en te versorg en bowenal, om vir hom iets te probeer wys van Jesus.
In die begin het Jerry altyd na die oefeninge gekom nadat die Bybelstudie verby is. Maar so met die tyd het hy begin om betyds daarvoor te kom. En een dag het hy by hulle aangesluit vir die gebed. Op 'n vreemde manier het hy al nader aan hulle gekom en hy kon nie genoeg kry van dit wat hulle gehad het nie. Hy wou ook voel en beleef wat hulle voel en beleef.
Twee jaar later het Jerry teruggekyk op sy reis en het hy aan sy vrou gesê dat iewers langs hierdie pad het hy radikaal verander. Hy het nou sonder enige twyfel geweet dat Jesus 'n lewensbelangrike deel van sy lewe was en dat niks weer vir hom dieselfde kan wees nie.
Hierdie verhaal van Jerry is eksemplaries, want dit beskryf die geestelike pad van talle postmoderne mense. Die eerste beginsel is die volgende: Postmoderne mense beweeg van die ERVARING van die transendente en verhoudings na die waarhede / inhoud van die evangelie, en nie andersom nie.
Mark Driscoll is die stigter van die Mars Hill gemeente in Seattle. Hierdie gemeente bestaan feitlik uitsluitlik uit jongmense tussen 20 en 30 jaar wat nie tevore aan 'n kerk behoort het nie. Die Mars Hille gemeente slaag buitengewoon goed om hierdie kerklose, postmoderne jongmense te bereik. Mark Driscoll sê die volgende:
"For the unchurched who are coming, we assume that they will need too experience something before they are ready to respond to the truth; the experience of community, they experience of transcendence, or of worship. As they experience these things, they are much more open to hearing the truth of what we're teaching, instead of the other way round. Coming to Christ and learning from Christ has to be something both communal and experiential."
Mars Hill het 'n duidelike postmoderne aanslag tot evangelisasie. Op watter maniere verskil 'n modernistiese evangelisasie benadering van 'n postmoderne aanslag?
1. Die Tradisionele, modernistiese benadering tot Evangelisasie
Die modernistiese benaderings het gewoonlik 'n kognitiewe uitgangspunt. Dit beteken dat dit eerstens fokus op die oordra van die INHOUD van die evangelie. Hierdie oordra van die inhoud lei dan tot 'n GELOOFSBESLISSING. Nadat die persoon tot geloof gekom het, word hy/sy deel van die GELOOFSGEMEENSKAP en daarna volg die proses om te groei tot 'n volwaardige volgeling van Jesus
Kennis van die pad van verlossing → Geloof → Behoort tot gemeente gedragsverandering (dissipelskap)
Die soort bekerings wat mens sou kry, is Damaskuspad bekerings, en die evangelie word verkondig volgens 'n Pinksterdag styl. Die konfrontasie met die waarhede van die Evangelie lei tot bekering. In die moderne tyd is evangelisasieveldtogte en evangelisasie preke effektief:- duisende mense kom so tot bekering.
Die mense aan wie die evangelie so verkonding is, was meestal mense met een of ander kerklike agtergrond, en gewoonlik mense wat die bestaan van God, van sonde en die sstraf op sonde (die hel) vanselfsprekend aanvaar. In 'n postmoderne wêreld is hierdie dinge glad nie meer die vanselfsprekende agtergrond waarteen die evangelie verkonding word nie. Postmoderne mense het soms geen kerlike agtergrond nie, en as hulle het, is die bestaan van God, die realiteit van sonde en van 'n ewige oordeel, en Jesus as enigste Verlosser hoeganaamd nie vir hulle vanselfsprekend nie. Onthou dat postmoderne mense leef 'n wêreld van godsdienspluralisme waarin geen godsdiens daarop aanspraak kan maak dat dit die enigste waarheid oor God beet het nie. Daarom verskil die postmoderne benadering tot evangelisasie. Dit kan nie uitgaan van die verkondiging van waarhede oor God nie, omdat postmoderne mense nie sulke waarhede aanvaar sonder meer nie.
2. Die Postmoderne benadering tot evangelisasie
Soos Mark Driscoll sê en Bill Easum se storie illustreer, werk 'n postmoderne benadering vanuit die ervaring van God, die belewenis van die gemeenskap van gelowiges en die verandering van gedrag na geloof.
Verandering van gedrag & deel word van 'n gemeenskap van vriende geloof in die God wat sigbaar is in die lewe van die vriende
Eerder as Damakuspad bekerings kan ons die verhaal van die Emmausgangers as voorbeeld (Luk 24) neem. Dit is 'n stadiger, terugkykende proses waarin mense dikwels agterna sien dat hulle vernader het. Bekerings onder postmoderne mense is meerendeels gebaseer op langtermyn verhoudings en groei-prosesse.
In doe postmoderne benadering skuif die klem en fokus van "om gered te word" na "transformasie". "Gered word" impliseer iets wat vinnig gebeur, terwyl transformasie iets wil sê van 'n geleidelike verandering
Die kenmerke van die postmoderne benadering is dan die volgende :
• Eerder 'n langtermyn proses as 'n eensklapse gebeure.
• Dit vat beduidend langer (2-3 jaar)
• Dit is nie altyd duidelik presies waar geloof begin gebeur nie
• Verhoudings speel 'n baie belangrike rol. 'n Ongelowige het kontak met 5-10 Christene nodig om hom/haar op dei geloofspad te beïnvloed.
• Blootstelling aan mense wat Christenskap ten volle uitleef, gee geloofwaardigheid aan die krag van die evangelie.
• Die ervaring van God se teenwoordigheid en werk in lewe van vriende en eredienste speel 'n baie belangrike rol
Postmoderne mense is dikwels deel van gemeenskap van gelowiges vóór hy/sy Jesus kies
HIERDIE INSIGTE HET BELANGRIKE IMPLIKASIES VIR GEMEENTE SE OPDRAG
• Ons moet weet: bekerings vat langer
• Evangelisasie is sistemies eerder as 'n program. Dit beteken die hele gemeente en al die aksies van die gemeente is daarby betrokke, eerder as net 'n evangelisasie span.
• Groepe speel 'n belangrike rol omdat mense daar blootgestel kan word aan gelowiges wat God ernstig neem.
• Ons moet baie sensitief wees vir die konteks van mense. Postmoderne mense sal gewoonlik beter identifiseer met gelowiges met dieselfde ervaringswêreld.
• Omdat die proses om tot geloof te kom, so 'n lang proses is, is ons rol dikwels om God se werk in mense se lewens oor 'n lang tyd te bevestig (affirmation evangelism).
• Evangelisasie alliansies wat breër werk as denominasies is nodig om die gemeenskap te bereik.
DIE DRIELEDIGE UITDAGING WAT POSTMODERNE MENSE AAN ONS RIG
Sagaria 8 bevat drie belangrike perspektiewe wat van toepassing is in die bediening van die kerk aan postmoderne mense.
18 Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. 19 So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda ’n dag van vrolikheid word, ’n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar (3) dan moet julle bly by die waarheid en (2) sorg dat daar vrede onder julle is. 20 So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede. 21 Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na (3) die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!” 22 Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. 23 So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want (1) ons het gehoor God is by julle.”
Hieruit 3 dinge wat belangrik is as ons kerk vir postmoderne mense in hulle leefwêreld wil ontmoet en hulle behoeftes wil aanspreek:
1. Die kerk moet 'n plek wees waar mense die teenwoordigheid van God kan ervaar. As dit waar is, dan sal die kerk mense trek wat na God soek.
2. Die kwaliteit van die verhoudings binne die geloofsgemeenskap is van deurslaggewende belang. Selfs al in die Ou Testament is die vrede onder die volk 'n voorwaarde daarvoor om God se getuiees te kan wees.
3. Ons moet by die waarheid bly, getrou bly aan ons identiteit. Die kerk moet 'n plek wees waar mense kan vra na die wil van die Here en dit vind.
1. DIE UITDAGING AAN ONS EREDIENSTE & ANDER BYEENKOMSTE
Postmoderne mense het 'n behoefte om die transendente te beleef. Daarom moet ons eredienste en ander byeenkomste geleenthede wees waar mense die teenwoordigheid van die Here kan beleef
• Aanbidding is sentraal
• Ons het gelowiges nodig wat self ingestel is op die ervaring van God se teenwoordigheid
• Die postmoderne skuif van: "Bewys dit vir my" na "Wys my" is hier van toepassing. Die ervaring van God eerder as rasionele argumente het oortuigingskrag
• Prediking kan net impak hê binne hierdie gebeure waar God te teenwoordigheid beleef word
2. DIE DEURSLAGGEWENDE BELANG VAN DIE GEMEENSKAP VAN GELOWIGES
Postmoderne mense het nodig om as mens erken te word, om te behoort tussen ander mense en om sinvolle verhoudings te beleef. Daarom:
• Die kerk moet 'n plek wees waar mense as waardevol geag word, en 'n plek kan vind om te behoort
• Die beginsel van "clanning". Mense wil gemaklike verhoudings beleef, en die kerk moet hierdie behoefte ernstig neem: laat mense tuis voel. Groepe waar mense gemaklik voel, is 'n deur waardeur postmoderne mense inkom.
• Die geslag van 20- vroeë dertigs (GenX) plaas 'n geweldige hoë premie op sinvolle verhoudings
• Die tendens van "Ego-nomics": mense wil nie 'n nommer wees nie, maar wil as mens in eie reg erken word.
• Ons moet ook weet dat baie postmoderne mense dikwels glad weet nie wat beteken sinvolle, toegewyde en durende verhoudings nie. Die kwaliteit van verhoudings in die kerk is van sleutelbelang om hulle dit te laat ervaar en te leer.
• Ons eie gasvryheid & openheid, dat ons ingestel is op ander, sal 'n groot rol speel of ons daarin sal slaag om postmoderne mense te bereik.
• Geleenthede vir interaksie soos om saam te eet, koffie te drink, besprekingsgroepe speel 'n belangrike rol.
• Ons moet dit ernstig neem dat die Here ons roep om om te gee en te sorg vir die gemeenskap.
3. TEOLOGIES KONSERWATIEF, "LIBERAAL" IN STYL
• In die postmoderne era is daar 'n skuif weg van 'n rasionalistiese, mensgesentreerde teologie, 'n teologie van kompromieë; na 'n teologie gebaseer op die fundamentele Bybelse waarhede.
• Intellektueel van hoë standaard, met kontemporêre styl
• Om God te beleef en te ontmoet is sentraal vir postmoderne mense, nie lojaliteit aan 'n instituut nie
• Hê hoë verwagtings van mense eerder as 'n kerk waarin die verbintenis laag is. 'n Werklik toegewyde spiritualiteit onder lidmate trek postmoderne mense
• Ten opsigte van aanbiedingstyl moet ons weet postmoderne mense is visueel ingestel, nie gewoond om te luister nie, en moet daarom iets hê om na te kyk.
• Gebruik van kreatiwiteit en die kunste in die eredienste is belangrik
o Simbole, visuele hulpmiddels, klein toneelstukke wat die boodskap se impak verhoog
o Die musiek moet "cutting edge" wees. Dit moet die soort musiek wees wat mense luister, en (baie belangrik) van hoë gehalte
• Die belangrikste egter is dat ons nooit ons identiteit as Christene mag prysgee nie. Alhoewel die styl van aanbidding en prediking kontemporêr moet wees, is die verkondiging van die sentrale waarhede van die Bybel onverhandelbaar.
By Mars Hill duur die erediens elke Sondag twee ure, en Mark Driscoll gebruik 'n uur daarvan om die Bybel uit te lê. Hulle mors nie mense se tyd met allerhande "sideshows" nie, hulle aanbid en hulle preek die Woord:
When people come to Mars Hill for two hours, they're going to get a good hour of challenging stuff to think about. A lot of nonbelievers come because it's not a waste of their time. (..) I don't need to do a Seeker thing. I can say: "Hey, we're a church. We worship. I teach the Bible. If you want to know what that's like, show up!" If someone goes into a sports bar and everyone was just watching soap operas, they would say "What's the deal? Where's the game?" If they go to a church and there's no Bible teaching, no worship, where else are they going to hear it? We're hiding the things that are our greatest assets.
SLOTGEDAGTE
Om vandag dissipels van Jesus te maak, is eintlik 'n sending taak, en elke effektiewe sendeling werk vanuit die beginsel van kontekstualisering
• Om mense vandag te bereik, moet ons hulle wêreld ken en verstaan.
• Die oogmerk is nie maar net om mense in kontak met Jesus te bring of om hulle 'n boodskap te laat hoor nie, maar om hulle te bring tot by toegewyde volgelingskap van Jesus.
• Hierdie is 'n langer, sterk verhoudings-gebaseerde pad
Die uitdaging lê voor ons en gaan ons beste poging vra:
"The dying Industrial Age paradigm is being replaced by a new culture that requires the fieldwork skills of an anthropologist, the dedication of a missionary, the patience of a saint, the learning curve of a child, the cunning of a thief, the stamina of an athlete, and the resolve of a coast guard sailor."
(Earl Creps - Disciplemaking in a Postmodern World)
Dr Lourens Bosman
Augustus 2003