Die style wat mense verkies en waarin hulle gemaklik is, hang baie nou saam met hulle agtergrond, persoonlikheid en doodgewoon waaraan hulle gewoond is.
Gelowiges is baie keer baie ongeduldig met mekaar omdat iemand sy/haar geloof op 'n ander manier beleef en uitleef as jyself. Gordon MacDonald skryf in sy boek "Forging a Real World Faith" (in Afrikaans vertaal as "Geloof vir ons tyd") dat ons moet verstaan dat verskillende mense gemaklik is om God op verskillende maniere te dien. Ons praat ook daarvan as verskillende spiritualiteitstyle (style van vroomheid of godsdiens).
Die style wat mense verkies en waarin hulle gemaklik is, hang baie nou saam met hulle agtergrond, persoonlikheid en doodgewoon waaraan hulle gewoond is. Dit is om twee redes sinvol om kennis te neem van hierdie verskillende style:
1. Dit leer ons begrip vir mekaar. Baie keer moet mens net verstaan op watter manier is 'n persoon anders as jyself om ruimte te kan skep vir sy/haar styl van geloofsbelewing. Dit leer ons ook dat daar nie net een regte manier is om God te dien nie. In die Bybel is dit duidelik dat God so baie fasette en dimensies het, dat een styl van godsdiens onmoontlik reg kan laat geskied aan die grootheid van God.
2. Insig in die verskillende style help ons ook om ons eie spiritualiteit te verruim. Die meeste van ons het 'n voorkeurstyl waarin jy gemaklik is en wat vir jou werk. Om te groei in ons verhouding met God is dit dikwels nodig om iets te leer van 'n ander styl om jou geloof uit te leef. Dit help ons om nie rigied te word nie en om aan te hou groei. En alhoewel mens seker jou voorkeurstyl sal hê, bring blootstelling aan ander style verruiming in ons geloof.
In die volgende tabel word die 6 style genoem met elkeen se uitstaande kenmerk. Die dubbele lyn aan die buitekant wil ons daaraan herinner dat daar by elke styl ook oorbenuttingskenmerke is. As mens op 'n rigiede manier net een styl gebruik, is dit bietjie gevaarlik, soos enige eensydigheid maar is.
Die 6 style word in pare teenoor mekaar gerangskik, omdat elkeen op 'n manier 'n korreksie is van die eensydighede van 'n ander.
Estetiese styl x Emosionele ervaring
Studerende x 'n Verhoudingsbewuste styl
Aktivistiese x 'n Peinsende styl

In die volgende drie tabelle word die ses style paarsgewys met mekaar vergelyk. Aan die einde van elke tabel word die oorbenuttingskenmerke ook genoem.
| Estetiese styl |
Emosionele ervaring |
| Sleutelwoorde: |
Uitbundige blydskap |
| Waardigheid, skoonheid |
|
| God is verhewe, anders. Sy majesteit kom eerste |
God is by ons, God is ons vriend |
| Musiek, taal, argitektuur moet van hoogste gehalte wees |
Musiek, taal, argitektuur moet mensvriendelik wees |
| Voorbeeld uit die Bybel: |
Dawid wat voor die ark dans, sy hartstogtelike Psalms |
| Salomo: 1 Kon 8 "Luister tog uit die hemel, U woonplek ..." |
|
| Die klassieke kunsvorms |
Populêre kunsvorms |
| Verwondering, bewondering |
Uitbundige vreugde |
| Oorbenuttingskenmerke |
Oorbenuttingskenmerke |
| God is ver |
God is my pêl |
| Skeiding tussen godsdiens en gewone lewe |
Godsdiens het nie meer spesiale karakter nie |
| Godsdiens ver verwyderd van mense se leefwêreld |
Beleef min van die transendente |
| Kan mense koud laat |
Mense kan dit as té emosioneel beleef |
| Bestuderende styl |
Verhoudingsbewuste styl |
| Sleutelwoord = waarheid |
Sleutelwoord = Liefde |
| Ons moet God (en sy wil) KEN |
Ons moet God se liefde hê |
| Profetiese styl |
Priesterlike styl |
| Amos, Wysheidsleraars, Paulus, |
Johannes, Barnabas (Hand 16:36-41) |
| Die regte dogma, die regte etiek is die belanrikste |
Liefde is al wat tel: "Daar is niks anders as die liefde nie" |
| Die etici, leraars |
Die herders |
| Jy moet verstaan wie God is en wat Hy verwag |
Geloof gaan oor jou hart en verhoudings |
Oorbenuttingskenmerke
|
| Kan hard wees, veroordelend |
Kan te toegeeflik wees |
| Intellektualisties |
Verwaarloos kennis aspek van Christelike geloof |
| Geen samewerking met ander kerke of instansies in die samelewing nie |
Min verskil tussen Christendom en humanisme |
| Aktivistiese styl |
Peinsende styl |
| Sleutelwoord = prestasie |
Sleutelwoord = luister |
| Doeners |
Bidders |
| God verander die wêreld |
God openbaar Hom is die stilte |
| Voorbeelde uit die Bybel: Jakobus - Geloof sonder dade is dood. Petrus. |
Psalm 63; 123. Johannes die Doper, Jesaja. |
| Die belangrikste is om dinge vir God te doen |
Die belangrikste is om God in afsondering te ontmoet |
| Aktiviste, teologieë van bevryding, of ekologie, feministiese teologie |
Die askete, woestynvaders wat hulle van die wêreld onttrek het |
| Die bouers, bakkers, organiseerders in 'n gemeente |
Die bidders in 'n gemeente |
Oorbenuttingskenmerke
|
| Oordaad van dade, kan ondeurdag optree |
Kwiëtisme, maak geen impak op die wêreld nie |
| Wêreldgelykvormig, alliansies met ander aktiviste |
Wêreldvreemd |
| So besig met die dinge van God, dat God self vergete bly |
"So heavenly minded, they are of no earthly use" |
JESUS SE LEWE OPENBAAR AL HIERDIE ELEMENTE
As mens na Jesus se lewe kyk, sien jy hoedat Hy met gemak in al die verskillende spiritualiteitstyle beweeg. Sy eie lewe is gekenmerk deur 'n rykdom van style en optredes.
1. Hy is die Een wat waardig is om met die beste gedien te word
In Mark 14 laat Hy toe dat die vrou Hom met baie duur nardusolie salf. Hierdie gebeure is nogal merkwaardig as ons in ag neem dat Jesus 'n baie eenvoudige lewenstyl gehad het. Maar Hy weet ook dat Hy waardig is om met die heel beste gedien te word.
2. Sy intieme verhouding met die Vader
'n Uitmuntende kenmerk van Jesus se verhouding met die Vader is die intimiteit daarvan. Jesus noem God "my Vader" 41 keer in die evangelies. Dit staan in skerp kontras met die Ou Testament waar God nooit op so 'n intieme manier aangespreek word nie. Dit is ook opvallend hoeveel kere Jesus oor blydskap praat en sy volgelinge aanmoedig om God met blydskap te dien.
3. Hy staan vir wat reg is en om die Vader in waarheid te openbaar
Op baie plekke lees ons hoedat Jesus standpunt inneem vir wat reg is. Hy kon nogal baie skerp reageer teen die Skrifgeleerdes van die tyd en maak dit duidelik dat Hy die waarheid aangaande God openbaar. Vergelyk Joh 8 40 "Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. "
4. Sy liefde vir mense (sondaars!) is legendaries. Hy is barmhartig en genadig.
Jesus se betrokkenheid by mense word baie helder vir ons geteken dwarsdeur die evangelies. Hy kies veral kant vir mense wat swaarkry en vir die randfigure in die samelewing. In Luk 15:2 word die beskuldiging ten Hom gemaak: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”
5. Hy doen dinge, en tree by tye kragdadig op
Jesus was nie net 'n prediker nie, en veral nie 'n passiewe dromer nie. Die evangelies vertel van al sy genesings, sy wonderwerke hoe Hy die tempel reinig. Hy was beslis 'n doener.
6. Hy sonder Hom gereeld af om in gebed by die Vader te wees
Ons lees op baie plekke hoedat Jesus Hom van die skares onttrek het om alleen met die Vader in gebed te verkeer. Soms is dit ook sommer vir 'n hele tyd wat Hy hom so afsonder:
Luk 6: 12 In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. 13 Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het.
Luk 9: Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. 29 Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit.
Jesus se eie spiritualiteit inkorporeer al die style. Om Hom te volg beteken dat daar ruimte is vir verskillende mense se eiesoortige spiritualiteite en ook dat mens jou eie styl om God te dien, kan verruim!
Dr. Lourens Bosman
November 2003